Assange: VSA mag appelleer

‘n Britse hof het Amerikaanse owerhede toegelaat om voort te gaan met hul appèlaansoek teen die weiering van die uitlewering van WikiLeaks se stigter, Julian Assange. ‘n Regter het in Januarie beslis daar is ‘n kans dat hy sy eie lewe sal neem indien hy aan die Amerikaanse regering oorhandig word. Die VSA wil die Australiër verhoor op aanklagte van spioenasie weens die onthulling van duisende hoogs geheime Amerikaanse dokumente. Hy word sedert 2019 in ‘n Britse gevangenis aangehou nadat Ecuador hom uit sy ambassade in Londen geskop het, waar hy vanaf 2012 arrestasie ontduik het.