AR-eis oor grond sal nie regstoets slaag nie

Die regspersoon van Women’s Action for Development, Verinao Kamahene, sê aan plaaslike media dat die eis deur die Affirmative Repositioning-beweging dat ‘n verbod op buitelanders se eienaarskap in Namibië ingestel word, nie ‘n regstoets sal slaag nie. Die beweging eis dat wetgewing deurgevoer word wat net Namibiërs toelaat om grond te besit. Volgens Kamahene is menseregte vervat in die Grondwet en buitelanders se regte word ook daaronder beskerm. Verder sal die wetsontwerp oor kommunale grond heeltemal onttrek moet word omdat buitelanders die grond plaaslik huur. Hy voeg by dat die beweging buitelander sal moet definieer omdat daar buitelanders is wat met Namibiërs getroud is. Die president van die Namibiese Landbou-unie Piet Gous het ook sy kommer oor die beweging se standpunt uitgespreek en gesê dit sal broodnodige beleggings kniehalter.