Angolese migrante lei honger

Owerhede in Ohangwena het daagliks 200 Angolese burgers teruggeneem na hulle land toe. Die aankondiging is deur die streek se Goewerneur Walde Ndevashiya gemaak op besoek na ‘n groep van die migrante wat hulle tans in die noorde van die land bevind. Toestande in Angola is volgens berigte haglik en die mense het nie kos of werk nie. Die Namibiese polisie se Streeksbevelvoerder, Kommissaris Elizabeth Sibolile sê beheer by die grens is baie uitdagend met talle mense wat daagliks onwettig die land binnekom. Van die migrante het aan plaaslike media gesê hulle soek net kos en skuiling en beter gesondheidsorg as wat in Angola beskikbaar is. Ingevolge ‘n ooreenkoms tussen die Angolese en Namibiese regerings kwalifiseer Angolese burgers vir gratis mediese sorg by Namibiese gesondheidsinstansies.