ANC rou oor dood van lede in busongeluk

Die ANC rou oor die dood van nege lede van die party in Mpumalanga wat vroeg vanoggend in ‘n busongeluk gesterf het. Die slagoffers het teruggekeer van die Moses Mabhida-stadion in Durban nadat hulle die bekendstelling van die ANC se verkiesingsmanifes bygewoon het. Die dodelike ongeluk het in Dumbe, KwaZulu-Natal, plaasgevind. Talle ander insittendes is baie ernstig beseer. Die negende slagoffer het in die hospitaal beswyk. Die ANC sê in ‘n verklaring die adjunkvoorsitter van KwaZulu-Natal, Nomagugu Simelane, en lede van die party se provinsiale leierskap in Mpumalanga en KwaZulu-Natal is op pad na die ongelukstoneel.