Amushelelo se optog gestop, hy is weer gearresteer

Die nasionale optog teen werkloosheid, wat deur die arbeidsaktivis Michael Amushelelo gereël is het nooit uit die blokke gekom nie. ‘n Dringende hoërhof aansoek deur Michael Amushelelo wat vroeg vanoggend deur regter Eileen Rakow aangehoor is, om met sy protesoptrede teen werkloosheid vandag aan te gaan, is van die hand gewys. Regter Rakow het die saak uitgegooi omdat dit nie as dringend ge-ag is nie. Die hoof van Nampol, inspekteur-generaal Joseph Shikongo het vroeër, in ‘n skrywe na Amushelelo, gesê daar is kommer oor sekuriteit omdat dit Onafhanklikheidsdag is. Daar is berig dat Shikongo nie die optrede kon verhoed nie en dit is nie bekend wat Maandag plaasgevind het nie. Amushelelo het ook protesgangers gevra om nie politieke partye se klere te dra nie en om vreedsaam te betoog. Sy prokureur, Kadhila Amoomo het die aansoek in die hof vanoggend namens hom behartig. Die groep, wat nog by die jeugkompleks in Katutura was, is ingelig oor die hof se beslissing. Die polisie het opgedaag en Amushelelo ingelig dat die byeenkoms onwettig is en dat die groep uitmekaar moet gaan. Dimbulukeni Nauyoma, ook van die NEFF-party, het die groep ingelig dat hulle weer Vrydag bymekaar sal kom, om die versoekskrif aan die arbeidsministerie te oorhandig. Amushelelo en Nauyoma is toe op die toneel gearresteer.