Amushelelo-optog teen werkloosheid gaan vandag voort

Michael Amushelelo se sogenaamde nasionale optog teen werkloosheid begin vanoggend om sewe-uur in die hoofstad. Hy het ‘n beroep gedoen op jongmense regoor die land om op verskeie dorpe ook optogte te reël, maar dit is nie duidelik of die planne sal afkom nie. Hy het jongmense aangemoedig om bymekaar te kom by die Katutura-jeugkompleks en hul CV’s saam te bring. Protesgangers mag ook geen politieke klere dra nie en hy het gevra vir vreedsame gedrag. Die eindpunt is die ministerie van arbeid om ‘n versoekskrif te oorhandig. Die ministerie se kantoor is in Mercedes-straat in Khomasdal. Die polisiehoof, luitenant-generaal Joseph Shikongo het hom gevra om eerder nie die optog vandag te hou nie as gevolg van sekuriteitskommernisse maar Amushelelo het die versoek van die hand gewys.