Amushelelo en kie hoor vandag oor appèl

Hoërhofregter Christie Liebenberg sal na verwagting vandag uitspraak lewer in die appèlsaak teen die weiering van borg vir Michael Amushelelo en Dimbulukeni Nauyoma in die Katutura-landdroshof. Liebenberg het saam met regter Boas Usiku die aansoek op 29 Julie aangehoor. Die staat staan die aansoek teen. Die twee, wat redelike ernstige klagtes in die gesig staar na amok by verskeie werksplekke en Chinatown in die hoofstad, is in aanhouding sedert hulle arrestasie op 12 en 13 Mei. Simon Amunime, ‘n mede-aktivis, het onlangs ‘n pleitdooi vir skenkings van 80 000 Namibiese dollar vir die twee gedoen vir hul regskostes. Amushelelo was tot onlangs nog ‘n handelaar in buitelandse valuta met bates wat beraam was op tot 5 miljoen Amerikaanse dollar.