Amper al die uraanerts in Libië teruggevind

Die meeste van die sowat 2,5 ton natuurlike uraanerts-konsentraat wat onlangs as vermis verklaar is vanaf ‘n perseel in Libië, is op daardie perseel gevind. Die VN se kernwaghond, die Internasionale Atoomenergie-agentskap het kommer gehad oor die vermiste erts al was dit minder as dit wat nodig is om ‘n kernwapen te bou. Na aanleiding van die oostelike Libiese magte se verklaring verlede week dat hulle dromme erts gevind het naby die pakhuis waaruit hulle in die suide van Libië geneem is, het die agentskap ‘n inspeksie uitgevoer en gevind dat slegs ‘n relatief klein hoeveelheid erts nog vermis was.