Amoomo onderhandel oor borg vir Michael-hulle, PDM nog op pad

Die regsman van die omstrede arbeidsaktivis, Michael Amushelelo, Kadhila Amoomo sê sy kliënt, en NEFF-lid Dimbulukeni Nauyoma sowel as PDM-LP Inna Hengari is nog nie formeel aangekla nie. Volgens Amoomo, onderhandel hulle steeds met die aanklaer-generaal sowel as die inspekteur-generaal van Nampol om die drie op borg vrygelaat te kry. Daar word verwag dat hulle eers môre in die hof sal verskyn. Intussen kan die PDM nog nie kommentaar lewer nie. Die party se sekretaris-generaal Manuel Ngaringombe het aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig hy is nog op pad terug Windhoek toe en sal dan, op aankoms, poog om met Hengari te vergader.