Amerikaanse finansminister gaan SA, Zambië en Senegal besoek

Die Amerikaanse minister van finansies, Janet Yellen, sal in die komende twee weke drie lande in Afrika besoek om bande met die vasteland te versterk. Yellen, ‘n voormalige president van die Amerikaanse Federale Reserweraad, is die eerste lid van President Joe Biden se kabinet wat ‘n uitgebreide besoek aan die vasteland bring ná Biden se aankondiging in Desember oor beleggings van 15 miljard Amerikaanse dollar. Die VSA wil sy bande met Afrika verstewig te midde van Chinese betrokkenheid wat toeneem in Afrika. Yellen sal Senegal, Zambië en Suid-Afrika besoek. Sy sal samesprekings voer met regeringslui en die privaat sektor oor onder meer voedselsekerheid, infrastruktuur-ontwikkeling en energie.