Amber Heard wil appelleer

Amber Heard het appèl aangeteken teen die uitspraak van die lastersaak wat haar eksman, Johnny Depp, in Junie vanjaar teen haar gewen het. Haar appèl kom minder as ‘n maand nadat Depp sy eie formele appèl teen aspekte van die beslissing ingedien het. Heard se regsverteenwoordiger voer onder meer aan die verhoor is in die verkeerde hof gehou, weens die “verkeerde gevolgtrekking” dat Depp se eise in Virginië ontstaan het, omdat The Washington Post se internetbedieners daar geleë is. Sy lastereis het gespruit uit ‘n meningstuk wat Heard in dié koerant geskryf het. Heard het sedert die verhoor nuwe regsverteenwoordigers gekry.