Alkoholmisbruik, werkloosheid ‘wakker wanvoeding aan’

Pijoo Nganate, die goewerneur van Omaheke, sê alkoholmisbruik en werkloosheid is van die groot bydraers tot die styging in wanvoeding in die streek, waar daar verlede jaar 45 kinders gesterf het weens wanvoeding. Nganate het tydens ‘n perskonferensie in Gobabis gesê sommige van die faktore wat bydra tot wanvoeding onder kinders is ouers wat kos wat aan hulle verskaf word vir alkohol verruil, asook kindernalatigheid deur jonger ouers wat hul kinders by bejaarde familielede los. Hy sê die Drankwet moet ook toegepas word, aangesien daar sjebiens is wat 24 uur per dag oop is. Sy kantoor probeer om wanvoeding te versag deur voedsel aan individuele huishoudings te verskaf, asook om sopkombuise in die streek op te rig.