Algerië is 16de land wat 10% inenting bereik

Algerië is die 16de land in Afrika wat daarin kon slaag om tien persent van sy bevolking ten volle teen Covid-19 in te ent. Tot dusver het 14 persent van die bevolking minstens een entstofdosis ontvang. Ander Afrikalande wat reeds hierdie mylpaal bereik het, sluit in Suid-Afrika, Marokko en Seychelle. Namibië staan tans op 8,4 persent. Die Afrika-streek van die Wêreld-gesondheidsorganisasie sê daar is nog ‘n lang pad wat voorlê om 40 persent van die bevolking teen die einde van die jaar in te ent.