Algemene gebruik om afvalwater in mariene-omgewing te stort

Die Suid-Afrikaanse departement van bosbou, visserye en die omgewing sê dit is algemene gebruik in kusstede dwarsoor die wêreld om afvalwater in die mariene-omgewing te stort. In Suid-Afrika word hierdie gebruik ingevolge die Gewysigde Wet op die Nasionale Omgewingsbestuur, die Gewysigde Wet op Geïntegreerde Kusbestuur en die Afvoerpermitregulasies van Kuswaters gewettig. Die woordvoerder van die departement, Albi Modise, sê die wette bepaal dat enige persoon wat afvloeiwater afkomstig van grond in kuswaters, wil stort, moet ‘n permit van die departement verkry.