Akteur Louis van Niekerk oorlede

Die bekende Suid-Afrikaanse akteur Louis van Niekerk is Dinsdagaand in die Milpark-hospitaal in Johannesburg oorlede op die ouderdom van 87. Van Niekerk sal onthou word vir sy TV-rolle, onder meer in Amalia, Die Vierde Kabinet, Fees van die Ongenooides, Getroud met Rugby, Agter Elke Man en Grondbaronne. Hy het op ‘n 12-jarige ouderdom begin toneelspeel en van sy bekendste rolle was Dogoman in P.G. du Plessis se Nag van Legio, Mattewis in Mikro se Mattewis en Meraai en Giel in Du Plessis se Siener in die Suburbs. In 1975 het hy die titelrol gespeel in François Swart se Afrikaanse produksie van Othello, ook met Sandra Prinsloo en Marius Weyers. Hy het tot einde Augustus 2009 as toesighoudende vervaardiger van Egoli gewerk. Hy was getroud met Lettie Scheepers. Sy is in 1983 oorlede.