Akkerbouraad presteer uiters goed met plaaslike produksie

Die Namibiese Akkerbouraad sê die implementering van die Akkerbou Markaandeel Bevorderingsplan het die weg gebaan vir verhoogde plaaslike produksie. Die pogings het gelei tot rekord witmielie produksie wat ‘n hoogtepunt van 98 000 metrieke ton in 2022 bereik het, teenoor 67 000 metrieke ton in 2017. Uitvoere van tuinbouprodukte het toegeneem tot 86 259 metrieke ton ter waarde van 1,7 miljard Namibiese dollar in die 2022/23-boekjaar, ‘n beduidende sprong vanaf 55 358 metrieke ton in 2017/18. Verder het die raad 16 gewas-spesifieke bemarking- en kommersiële kwaliteitstandaarde deur die Namibiese Standaarde-instelling ontwikkel, om sodoende te verseker dat Namibiese produkte aan die hoogste industriestandaarde voldoen.