Akkerbouers word die week vereer

Akkerbouers gaan op 16 November op Grootfontein deur die Namibiese Akkerbouraad beloon word deur toekennings te ontvang. Die tema van die geleentheid is “Promoting growth in crop value chain development”. Die doel van die geleentheid is om erkenning te gee aan produsente, verwerkers, diensverskaffers en handelaars wat uitstaande bydraes gelewer het om die groei van die akkerboubedryf in Namibië te bevorder. Toekennings sal in verskeie kategorieë toegeken word aan die beste presteerders wat onder andere buitengewone innoverende benaderings, goeie risiko-diversifikasie, goeie arbeidsverhoudinge en gemeenskapsbetrokkenheid getoon het. Gilbert Mulonda, die raad se hoofbestuurder vir akkerbou en tuinbou, sê aan Kosmos 94.1 Nuus dit gaan ‘n groot geleentheid wees.