Agribank verleng tender vir Witvlei-aanleg

Agribank het sy tender vir die Witvlei-abattoir verleng en die sluitingsdatum is nou 31 Augustus in plaas van die 4de, soos aanvanklik geadverteer. Die bank soek iemand om die abattoir, nabygeleë eiendomme en verskeie erwe in Witvlei oor te neem en te bedryf. Daar was vroeër hoop dat Mecki Schneider se Savanna Beef Processors dalk die aanleg sou oorneem maar hy het reeds te kenne gegee dat hulle nie belangstel nie. Die aanleg was reeds teen 2015 in die moeilikheid nadat Meatco die Noorweegse kwota oorgeneem het. Meer as 200 mense het hul werk verloor. Die destydse voorsitter van Witvlei Meat, Sidney Martin, het hand en tand baklei en sake tot in die plaaslike hooggeregshof sowel as in Noorweë hangende gemaak maar, dit het alles op niks uitgeloop. Witvlei het beleggings en werkskepping broodnodig.