Agribank in die hof oor twee Suide-plase

Agribank het twee sake vandag op die hofrol, beide vir plase in die Suide. In die eerste geval word die Raves-egpaar vir net meer as 5,2 miljoen Namibiese dollar gedagvaar en die bank eis die plaas Bossiesvley, net meer as 5 250 hektaar groot in die Maltahöhe-distrik op. ‘n Interlokutêre aansoek word vandag oor die bank se aansoek vir ‘n summiere vonnis, wat deur die Raves-egpaar teengestaan word, voor regter Orben Sibeya aangehoor. In die tweede geval soek die bank 3,8 miljoen dollar van Wiekus Steenkamp en in die alternatief, die plaas Kukanibeb, 7 000 hektaar groot, in die Karas-streek. Die saak word vandag tot 19 Junie uitgestel vir bemiddeling.