Afrika sal wêreld se asblik word

Ongeveer 300 miljoen metrieke ton plastiese afval word jaarliks produseer en dit wil voorkom asof Afrika die stortingsterrein daarvoor word. Die VN se Omgewingsprogram, wat gasheer is vir die driedaagse VN-omgewingsvergadering wat Maandag in Nairobi begin, sê plastiekbesoedeling in Afrika versnel, deels gedryf deur swak vullisversameling en gebrek aan herwinningsfasiliteite. Die probleem hou ‘n beduidende bedreiging vir die omgewing en die ekonomieë van die vasteland in, het dit in ‘n onlangse verslag gesê. Wêreldwyd word minder ass 10 persent van plastiekafval herwin en die syfer is laer op die vasteland en as niks daaraan gedoen word nie, sal Afrika die meeste van die afval absorbeer. In 2018 het China besluit om die invoer van plastiekafval te verbied, ‘n stap wat deur ander Asiatiese lande soos die Filippyne en Maleisië gevolg is. Dit het vrese laat ontstaan vir ‘n uitkringeffek – dat ryk ekonomieë hulle toenemend na Afrika sal wend om van hul plastiekrommel ontslae te raak.