Afrika het 1% van 2,1 miljard entstowwe toegedien

Die Afrika-streek van die Wêreldgesondheidsorganisasie sê nagenoeg 90 persent van alle lande in Afrika gaan nié hul teiken haal om teen September reeds 10 persent van hul bevolking teen Covid-19 ingeënt te hê nie. Die aantal bevestigde Covid-19-gevalle op die vasteland sal na verwagting binnekort die 5 miljoen-kerf verbysteek. Altesaam 133 000 mense is reeds in Afrika aan die virus dood. Die vasteland verteenwoordig egter minder as 1 persent van die meer as 2,1 miljard dosisse Covid-19-entstof wat reeds wêreldwyd toegedien is. Matshidiso Moeti van die organisasie sê hoewel Afrika meer entstof benodig, sal sommige Afrikalande hul inentings moet versnel om die entstof wat hulle reeds ontvang het, so spoedig moontlik toe te dien.