Afghaanse skoonheidsalonne moet binne ‘n maand sluit

Die Taliban in Afghanistan het beveel dat alle skoonheidsalonne binne ‘n maand moet sluit. Die ministerie belas met die sogenaamde sede-polisie het die aankondiging vandag gemaak. Buitelandse regerings en VN-amptenare veroordeel die al hoe meer beperkinge wat ingestel word teen vroue sedert die Taliban in 2021 die mag oorgeneem het. Die owerhede het verlede jaar die meeste hoërskole vir meisies gesluit en vroue verbied om universiteite by te woon. Vroue word ook verbied by openbare plekke soos badhuise, gimnasiums en parke. Die Taliban sê hy respekteer vroueregte in ooreenstemming met sy vertolking van Islamitiese wetgewing en Afghaanse tradisies.