Afghaanse sentrale bank vind miljoene in goud en geld in politici se wonings

Afghanistan se sentrale bank sê hy het beslag gelê op byna 12,4 miljoen Amerikaanse dollar in kontant en goud wat hy in besit van top regeringsamptenare, insluitend die voormalige adjunkpresident Amrullah Saleh, gevind het. Die bank sê in ‘n verklaring dat die geld en goud by die wonings van die amptenare gevind is. Dit is onbekend waar Saleh is. Hy het homself altyd sterk teen die Taliban uitgespreek en volgens onbevestigde berigte is sy broer Rohullah Azizi onlangs deur die Taliban tereggestel. Die bank het ook opdrag aan kommersiële banke in die land gegee om individue wat deel gevorm het van die vorige regering, se rekenings te vries. Die VSA word gekritiseer omdat hy nie korrupsie in die land aangespreek het terwyl hy regeringstelsels in plek gesit het en die weermag opgelei het nie.