Adele stel eerste album in ses jaar bekend

Die musiekster Adele het haar eerste album in ses jaar bekend gestel. Daar is met groot verwagting uitgesien na “30” en kritici en ondersteuners is in hulle noppies. Dis haar vierde album. Adele sê sy het die album gemaak om haar egskeiding aan haar jong seun te verduidelik. Sy en haar man Simon Konecki is in 2019 uitmekaar. Haar treffer-ballades oor verbreekte verhoudings, berou en nostalgie het haar een van die suksesvolste sangers en liedjieskrywers in die musiekbedryf gemaak. Die nuwe album volg op die Grammy-wenner “25” en is soos haar vorige albums, na ‘n mylpaal-ouderdom vernoem.