Aappokke: Twee stede in VSA verklaar noodtoestand

Die Wêreldgesondheidsorganisasie doen ‘n beroep op lande om mekaar by te staan in pogings om die oordrag van aappokke te beperk. Die organisasie sê optrede is nodig voordat die siekte ‘n wêreldwye pandemie soos Covid-19 word. Meer as 16 000 gevalle van dié seldsame virussiekte is reeds in meer as 78 lande aangemeld. New York en San Fransisco in die VSA het reeds elk ‘n noodtoestand afgekondig. Die WGO het vroeër die maand die uitbreking van aappokke tot ‘n openbare gesondheidsnoodsituasie verklaar. Aappokke word gewoonlik deur liggaamsvloeistowwe, respiratoriese druppels en ander besmette materiaal oorgedra, met simptome wat koors, uitslag en geswelde limfknope insluit.