Aappokke: Eerste sterfte in Asië

Indië het sy eerste aappokke-sterfte bevestig. Die slagoffer is ‘n jong man van die suidelike staat Kerala. Dit is slegs die vierde bekende sterfte weens die siekte in die huidige uitbreking, en die eerste in Asië. Spanje het verlede week twee sterftes aangemeld wat verband hou met aappokke, en Brasilië sy eerste. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het die uitbreking op die 23ste van verlede maand tot wêreldwye gesondheids-noodtoestand verklaar. Die WGO sê laat in Julie het 78 lande altesaam 18 000 gevalle van aappokke aangemeld, waarvan die meeste in Europa is.