Aanval op militêre basis in Somalië eis 26 lewens

Owerhede in Somalië sê 26 mense is dood en tientalle is beseer in ‘n aanval op ‘n militêre basis in die dorp Hawadley in die Middel-Shabelle-streek. Dit sluit in vyf Somaliese soldate en 21 aanvallers van die Al-Shabaab militantegroep. Die basis is eers deur ‘n selfmoordbom-aanvaller getref, waarna aanvallers op die soldate losgebrand het. Die aanval volg slegs dae nadat die weermag weer beheer oor die strategiese hawedorp Haradhere teruggeneem het. Al-Shabaab was vir 15 jaar in beheer van die dorp. Die militantegroep het in reaksie voortgegaan om aanvalle uit te voer wat hoofsaaklik regeringsgeboue en Afrika Unie-magte teiken.