Aussies looi Proteas weer
‘n Ontembare Australiese span het die Proteas in die tweede eendagwedstryd in Bloemfontein met 123 lopies die loef afgesteek. Die besoekers het ‘n reusetotaal van 392 vir agt in hulle 50 beurte opgestapel nadat die Suid-Afrikaans-gebore Marnus Labuschagne 124 aangeteken het, aanvangskolwer David Warner, 106, Travis Head, 64 en Josh Inglis 50. Tabraiz Shamsi was die beste Protea-bouler en het vier paaltjies ingepalm. Die gashere is toe in hulle 42ste beurt uitgeboul vir 269, met Quinton de Kock, kaptein Temba Bavuma, Heinrich Klaasen en David Miller wat almal veertigtalle aangeteken het. Die derde van die vyf eendagstryde word Dinsdag in Potchefstroom gespeel.