China grom weer vir VSA oor militêre hulp aan Taiwan

Die Chinese regering het skerp gereageer op Amerika se besluit om ‘n moontlike verkooptransaksie van 500 miljoen Amerikaanse dollar aan Taiwan goed te keur. Die transaksie sluit infrarooi opsporingstelsels vir F16-vegvliegtuie en ander toerusting in. Die Chinese ministerie van verdediging het in ‘n verklaring gesê die VSA moet die bewapening van Taiwan staak, en sy onderneming gestand doen om nie die onafhanklikheid van Taiwan te steun nie. Die VSA moet ook dadelik die versterking van militêre bande met Taiwan staak. China beskou die selfregerende Taiwan as deel van China.