Zim-polisie arresteer verkiesingswaarnemers

Die polisie in Zimbabwe het bevestig dat 41 verkiesingswaarnemers in hegtenis geneem is, omdat hulle na bewering probeer het om die verkiesingsprosesse te ontwrig. Die waarnemers wat aan burgerlike groepe verbonde is, het volgens berigte hul eie stemtelproses uitgevoer sodat die uitslae met die amptelike verkiesingsuitslae vergelyk kan word, na bewerings van ongerymdhede met vorige verkiesings. Polisiebeamptes het ‘n reeks klopjagte uitgevoer in die hoofstad Harare, insluitend op ‘n hotel en die kantore van die organisasies Zimbabwe Election Support Network en Elections Support Centre. Beamptes het beslag gelê op 38 skootrekenaars en 93 selfone.