Beleggings-wetsontwerp: Iipumbu sê daar was genoeg konsultasies
Die Namibiese handelsminister, Lucia Iipumbu het teruggekap teen kritiek oor die beperkte konsultasie-periode wat toegelaat is vir die nuwe beleggings-wetsontwerp. Die Ekonomiese Beleidsnavorsing-vereniging het in ‘n ope brief aan Iipumbu sy diep kommer oor die beleggings-wetsontwerp uitgespreek. Die vereniging sê hy is nie in kennis gestel oor enige openbare konsultasie voor die 7de Augustus s’n nie, en moes oor daardie byeenkoms op sosiale media hoor. Rolspelers is ook net vier dae tot 11 Augustus gegee om insette te lewer. Ander ekonome het ook oor die kwessie gekla maar sy sê konsultasies is regdeur die jaar gehou in al 14 streke met talle advertensies wat geplaas is en meer. Die wat die besprekings moes bywoon het so gemaak. Die wetsontwerp wek uiters groot kommer omdat dit amper al die mag in die minister se hande plaas, veral oor die fynere bepalings van waarin belê kan word, wie vennote moet wees en meer. Epra sê die wetsontwerp, soos dit nou staan, sal beleggings in Namibië kniehalter.