Telecom-werknemers hou vreedsame betoging

Werknemers van Telecom Namibia het vandag ‘n vreedsame betoging gehou waarin hulle salarisverhogings eis en beweer dat daar korrupsie binne die maatskappy is. Sophia Egelser het namens die werknemers aangedui die betoging sal vir die volgende twee dae voortduur. Sy sê die betoging sal eers eindig sodra die raadsvoorsitter, Melkizedek Uupindi of ondervoorsitter, Amanda Hauuanga die petisie ontvang het. Die werknemers het geëis dat hulle bonusse en salarisverhogings ontvang en sê die raad van direkteure moet hulle onmiddellik by die vakbond vir staatsamptenare, Napwu, aanmeld. Die werknemers het verder beweer dat raadslede by korrupsie betrokke is en gesê hulle wil sien dat dit tot ‘n einde kom.