Hage sê hy is perdfris en gesond

President Hage Geingob het ontken dat hy byna ineengestort het tydens die 43ste SAOG se gewone beraad in Luanda, Angola. Dit volg nadat ‘n TikTok-video wat op sosiale media versprei word, wys hoe die President gespanne lyk tydens die sing van die SAOG-lied. Geingob het met sy terugkeer in Windhoek aan die NBC bevestig hy het geen gevaar geloop om ineen te stort nie. Staatshuis se perssekretaris, Alfredo Hengari, sê daar was ‘n onderskrif by die video wat beweer dat die President ná die sing van die lied ineengestort het, wat Hengari ontken het. Geingob het in Junie ‘n aortaklep-prosedure in Suid-Afrika ondergaan, maar het vinnig teruggekeer na sy verpligtinge. Einde Julie was Geingob weer in ’n Windhoekse hospitaal vir twee dae vir ‘n opvolg-operasie.