ANC: Westerse sanksies teen Zim, Noord-Korea en Kuba moet stop

Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het die party se steun vir die beëindiging van Westerse sanksies teen Zimbabwe, Noord-Korea en Kuba uitgespreek. Mbalula het saam met ‘n partylid, Maropene Ramokgopa, ‘n geleentheid by die Chinese ambassade in Tshwane bygewoon in aanloop tot President Xi Jinping se staatsbesoek. Die funksie is ‘n voorloper tot volgende week se Brics-spitsberaad in Johannesburg. Mbulula het benadruk die ANC is in ooreenstemming met die Chinese Kommunistiese Party se soeke na ‘n alternatiewe wêreldorde en multi-laterale ekonomiese arbitrasie.