Wyle Reeva se ouers staan nie Oscar se parool-aansoek teen

Wyle Reeva Steenkamp se ouers het aangedui hulle sal nie die parool-aansoek van die voormalige Paralimpiese atleet, Oscar Pistorius, in die Konstitusionele Hof teëstaan nie. June en Barry Steenkamp se regsverteenwoordiger, Tania Koen, het die besluit bevestig. Pistorius, wat skuldig bevind is aan die moord op hulle dogter op Valentynsdag in 2013, het die hof genader om die klaarblyklike verwarring oor wanneer hy vir parool in aanmerking kom, uit te klaar. Volgens Koen konsentreer die Steenkamps eerder op wat vandag Reeva se 40ste verjaardag sou wees en glo dis nie nodig om die aansoek teen te staan nie.