Lodestone wil pyplyn van Oanobdam na sy Dordabis-myn hê
Lodestone Namibia se ystererts-mynprojek by Dordabis is besig met ‘n omgewingsbestuursplan vir sy watervereistes wat ‘n beplande water-pyplyn vanaf die Oanobdam naby Rehoboth insluit. Onlangse watervereistes van die myn is op twee miljoen kubieke meter water per jaar bepaal. Lodestone het in 2019, 2020 en 2021 konsultasies met NamWater gehad en voorgestel dat grootmaat water deur NamWater voorsien sal word met ‘n 102 kilometer lange waterpypleiding vanaf die Oanobdam na die mynperseel, wat sowat 20 kilometer noordwes van Dordabis en 75 kilometer suidoos van Windhoek geleë is. Lodestone is in die proses om ‘n oopgroefmyn en verwerkings-aanleg te ontwikkel. Namisun, ‘n Namibiese gebaseerde, onafhanklike omgewings-adviesfirma hanteer die omgewingsbestuursplan. Die Oanobdam se volle kapasiteit is 34,505 miljoen kubieke meter water en die damvlak staan tans op 55,5 persent teenoor verlede jaar se 76,2 persent.