Weermaghoofde vergader oor bystandsmag in Niger
Weermaghoofde van die Wes-Afrika streeksliggaam, Ecowas, vergader vandag en môre oor die ontplooiing van ‘n bystandsmag vir moontlike militêre ingryping om demokrasie in Niger te herstel. Die vergadering vind in die Ghanese hoofstad, Accra plaas. Minstens 11 van Ecowas se 15 lidlande steun militêre ingryping om die demokraties verkose President van Niger Mohamed Bazoum se regering te herstel, nadat diplomatieke pogings geen positiewe resultate opgelewer het nie. Drie Ecowas-lede wat tans self deur militêre leiers regeer word, Mali, Burkina Faso en Guinee, steun egter die staatsgreep-leiers in Niger. Die staatsgreepleiers het vroeër gewaarsku dat hulle hulleself teen enige ingryping sal verdedig.