Ecuador: Colombiaanse burgers vasgetrek vir moord
Die polisie in Ecuador sê die ses mense wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op die presidentskandidaat, Fernando Villavicencio, is Colombiaanse burgers. ‘n Sewende verdagte, wat deur wetstoepassers doodgeskiet is, was ook ‘n Colombiaanse burger. Villavicencio is Woensdag doodgeskiet toe hy ‘n verkiesingsaamtrek in die hoofstad Quito verlaat het. Hy was uitgesproke teen georganiseerde misdaad en was een van die enigste presidentskandidate wat regeringsamptenare van betrokkenheid by korrupsie beskuldig het. President Guillermo Lasso sê die moord is ‘n poging om die verkiesing te saboteer. Hy sê egter die verkiesing sal op 20 Augustus voortgaan, ondanks ‘n noodtoestand wat na die moord afgekondig is. Lasso het die Amerikaanse speur-agentskap, die FBI, gevra om met die ondersoek te help.