Kommissaris sê vandag oor Zuma en sy tronkstraf

Die waarnemende kommissaris van Korrektiewe Dienste, Makgothi Thobakgale, sal vandag aankondig of oudpresident Jacob Zuma moet terugkeer tronk toe om sy vonnis uit te dien. In Junie 2021 het die Konstitusionele Hof Zuma tot 15 maande tronkstraf gevonnis weens minagting van die Hof. Nadat hy net twee maande uitgedien het, is hy op mediese parool vrygelaat, ‘n beslissing wat die Appèlhof in November verlede jaar onregmatig bevind het. Verlede maand het die Konstitusionele Hof die Appèlhof se besluit bekragtig. Die departement sê die kommissaris het vertoë van alle betrokke partye ontvang oor Zuma se gevangenisstraf-termyn.