Jeugsentrum se water afgesny, pos nie tydens inperkings afgehaal nie

Plaaslike media berig dat die veeldoelige jeugsentrum op Oshakati sedert Desember sonder water is na die munisipaliteit dienste gesny het oor ‘n uitstaande rekening van 100 000 Namibiese dollar. Die 18 werkers by die fasiliteit meld aan vir diens maar, verlaat hul poste na drie tot vier ure en gaan dan huis toe omdat daar geen water is nie. Hulle kry steeds volle betaling. Die sentrum word bestuur deur die ministerie van jeug en sport. Volgens berigte het die uitvoerende direkteur in die ministerie Mbumba Haitengela bevestig betaling moet nog gemaak word maar sê hulle stem nie saam met die bedrag nie. Blykbaar kom die uitstaande bedrae van die Covid-tydperk af toe personeel nie poskantoor toe gegaan het om pos, wat die rekenings insluit, af te haal nie.