Galp begin boorwerk teen einde van vanjaar

Galp, die operateur van eksplorasie-lisensie PEL 83 in die Oranje-bekken, het aangekondig dat hy teen einde vanjaar die eerste van twee eksplorasieboorgate sal begin boor. Die maatskappy het reeds ‘n kontrak gesluit met SFL Corporation vir die semi-dompelbare tuig Hercules. Galp bedryf PEL 83 met ‘n 80 persent belang, terwyl Namcor 10 persent het, en Custos Energy, wat half besit word deur Sintana, ook ‘n 10 persent belang het. Die plaaslike sakeman Knowledge Katti besit Custos Energy. Die lisensie-gebied is noord van PEL 39 geleë, wat die tuiste is van Shell se sukses-putte Graff 1 en Jonker 1 en noord en wes van PEL 56 waar TotalEnergies ook sy reuse-ontdekking gemaak het.