Mossadlede steun publiek teen Bibi se hervormings
Berigte uit Israel lui dat veterane van Mossad, Israel se buitelandse intelligensiediens, aan protesaksie teen hervormings van die land se regstelsel, deelneem. Verlede week het premier Benjamin Netanyahu se verregse koalisie die eerste fase van die wetgewing deurgevoer. Dit beperk die Hooggeregshof se magte om op te tree teen regeringsbesluite. Dit het gelei tot reuse-optogte met meer as 170 000 Israeli’s wat verlede naweek die strate ingevaar het. Nou het hulle die steun van reserviste in elite spesiale magte-eenhede en vegvlieëniers wat gedreig het om nie vir diens op te daag nie, ingewin. Die onenigheid het onder voormalige lede van Mossad ook versprei.