Nuwe Ontwikkelingsbank onderhandel oor verskeie geldeenhede

Die vise-president van die Nuwe Ontwikkelingsbank, voorheen die Brics-bank, Leslie Maasdorp, sê die bank is daartoe verbind om die gebruik van die geldeenhede van sy lidlande te verhoog. Die bank wat in 2015 deur die Brics-lande gestig is met sy hoofkantoor in Shanghai, het sy sewende bestaansjaar gevier. Maasdorp, wat ook die bank se finansiële hoof is, sê die lidlande – Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika – dring aan op meer onderlinge handel in hul onderskeie geldeenhede. Hy sê die bank gebruik reeds verskillende geldeenhede, al is die Amerikaanse dollar die geldeenheid wat hoofsaaklik in handel gebruik word.