Yellen sê haar besoek aan China was produktief
Die Amerikaanse minister van finansies, Janet Yellen sê die vergaderings met senior Chinese amptenare was produktief. Sy het aan die einde van haar besoek van vier dae aan Beijing gesê die VSA en China verskil steeds oor verskeie belangrike kwessies, maar dat haar besoek gehelp het om bestendigheid in die betrekkinge te verbeter. Yellen het by ‘n mediakonferensie by die Amerikaanse ambassade gesê Amerika is bekommerd oor wat sy noem, onbillike ekonomiese praktyke, en oor die onlangse strafmaatreëls wat China teen Amerikaanse maatskappye ingestel het. Sy sê sy en President Joe Biden beskou die situasie egter nie as ‘n magskonflik nie, omdat daar genoeg ruimte vir albei lande is.