Een vas vir diefstal van 51 renosterhorings

’n Man is in hegtenis geneem in verband met die diefstal van 51 renosterhorings uit ’n Noordwes Parkeraad-kantoor. Volgens die Valke se luitenant Tinyiko Mathebula, is die 40-jarige in Rustenburg in hegtenis geneem. Vyf voertuie wat vermoedelik in die pleging van die misdaad gebruik is – ’n Range Rover, Land Rover, BMW, Nissan X-Trail en Honda Civic – is gekonfiskeer vir verdere ondersoek. Op 27 Junie is daar berig dat twee mans toegang tot die kluis in die Mafikeng-kantoor van die Parkeraad ingebreek het en 51 renosterhorings gesteel is. Die horings is volgens kenners reeds op pad na Asiatiese bestemmings.