Laaste Franse oorlewende (100) van Slag van Normandië sterf
Die laaste oorlewende van die Franse kommando-eenheid wat op 6 Junie 1944 aan die Slag van Normandië deelgeneem het, Leon Gautier, is op 100-jarige ouderdom oorlede. Hy was een van die 177 Franse Groen Barette wat aan die aanval deelgeneem het. Hy het in 2019 aan die internasionale nuus-agentskappe vertel dat hy te jonk was om by die leër aan te sluit en het toe by die vloot aangesluit. In dié onderhoud het Gautier gesê die geweld van die oorlog spook steeds by hom. Die Franse President Emmanuel Macron het in ‘n boodskap op sosiale media hulde gebring aan Gautier, en hom en sy makkers bestempel as helde van die Franse bevryding.