Xinfeng behaal sukses in die hof, mynlisensie geldig
Die Chinese litium-mynmaatskappy Xinfeng Investments het geslaag in sy aansoek in die hoërhof teen die lynminister Tom Alweendo. Die maatskappy het die hof gevra om ‘n interdik te gee teen die mynkommissaris Isabella Chirchir en omgewingskommissaris Timo Mufeti se implementering van Alweendo se herroeping van sy mynlisensie 243 wat in September verlede jaar toegeken is en aan die einde van April vanjaar deur Alweendo teruggetrek is. Regter Ramon Maasdorp het vanoggend ten gunste van Xinfeng bevind. Die kwessie van litiumontginning in die Uis-omgewing het uiters omstrede geword met Alweendo wat gesê het die maatskappy was nie eerlik in sy aansoek nie en die Uis-gemeenskap wat sê daar is geen voordeel vir hulle met die Chinese se teenwoordigheid nie. Die Namibiese kabinet het op 13 April ‘n verbod op die uitvoer van sekere kritieke minerale wat onverwerkte litium-erts insluit, goedgekeur. Kleiner hoeveelhede uitgevoer word, maar volgens oorweging deur die lynministerie, en onderhewig aan die bekragtiging van die kabinet.