Kommer oor dodelike migrante-roete na Kanarie Eilande
Meer as 220 migrante is naby Spanje se Kanarie Eilande gered, nadat meer as 30 migrante volgens berigte in die gebied verdrink het. Die Spaanse kuswag sê die migrante het in opblaasbote naby die Lanzarote- en Gran Canaria Eilande gereis toe hulle in die moeilikheid beland het. ‘n Aantal migrante moes hospitaal toe geneem word vir behandeling. Twee hulporganisasies wat op migrante fokus, sê dat meer as 30 migrante vermis word nadat ‘n boot langs die kus van Gran Canaria gesink het. Die migrante-roete van Wes-Afrika na die Kanarie Eilande, is een van die dodelikste roetes, met minstens 543 mense wat verlede jaar op die roete dood is of vermis geraak het.