Ergste oseaan-hittegolf nóg aan Britse en Ierse kus
Wetenskaplikes het bevind dat die ergste oseaan-hittegolf nóg aan die kus van Brittanje en Ierland ontwikkel het. Volgens die Europese Ruimte-agentskap is die seewater in dié gebiede drie tot vier grade Celsius warmer as die gemiddelde temperatuur vir dieselfde tyd van die jaar. Die redes vir die ongewoon warm seewater is volgens die wetenskaplikes onder meer ongewoon swak wind en ‘n gebrek aan Sahara-stofdeeltjies in die atmosfeer. Dié stofdeeltjies kaats die sonstrale weg van die aarde se oppervlak. Dié toestande heers teen die agtergrond van stygende temperature wêreldwyd weens klimaatsverandering.