VSA stel sanksies teen 3 SA-instansies in
Amerika het sanksies aangekondig teen 43 entiteite, insluitend drie Suid-Afrikaanse maatskappye sowel as maatskappye van Thailand, die Verenigde Arabiese Emirate, Brittanje en China. Dit sluit in die maatskappy, Test Flying Academy of South Africa in Oudtshoorn, die AVIC-internasionale vlug-opleidingsakademie in George, en die maatskappy Pearl Coral. Volgens die Amerikaanse departement van handel is daar redelike gronde om te glo dat die entiteite betrokke is by aktiwiteite wat strydig is met Amerika se nasionale veiligheidsbelange en buitelandse beleid. Die Suid-Afrikaanse maatskappye is glo betrokke by die opleiding van Chinese militêre vlieëniers deur gebruik te maak van Westerse en Navo-tegnologie. Die sanksies kan ‘n invloed hê op die maatskappye se toegang tot internasionale bankdienste en versekering.